Wednesday, 21 August 2013

Kinders en hul dinge.

Ek het simpatie met my kinders, maar geen empatie nie.

Dit beteken nie dat ek niks van my kinders hou nie, dit beteken net dat ek aanvaar het dat hulle weier om te leer uit ander mense se foute, en hulle die reg gun om alles op die harde manier te leer.  Hoekom het jou kinders altyd jou swakste eienskappe?

My oudste seun, Peter, het Saterdagaand hard probeer om 'n betonmuur wat heel onskuldig 'n paar meter van die straat af manhaftig probeer het om sy staan te staan, onverwags skrik te maak.  Ongelukkig het hy dit gladnie beplan nie, en in plaas van skrikmaak stamp hy hom toe sommer om.  Sy i10 se hele regterkant is gekrap en vol duike, en die voorwiel het sommer van die rim afgeklim.

Ongelukkig vertel hy toe vir een van sy 'vriende' wat 'n toutrok besit dat hy versekering het op sy voertuig. maar onthou toe nie dat dit net derde-party versekering is nie.  Groot fout.  'n Ander maatskappy het hom gister gebel.  Hy moet hulle more R5000.00 betaal, anders vra hulle hom R1200.00 per dag wat die voertuig by hulle staan.  Die ander R2500.00 wat hy hulle dan nog skuld hoef hy eers die einde van die maand te betaal, maar hy moet dan more sy voertuig self kom verwyder, anders betaal hy in elk geval 'n daaglikse stoorfooi.

Moet egter nie dink dat hierdie 'n saak van erns vir hom is nie.  Nee, hy het nie deur die dag tyd om enigiets te doen hieraan nie, want hy moet werk.  Hy bel in die aande na sewe en kan nie verstaan dat niemand hulle werksfone antwoord nie.

My oudste dogter, Esther, en haar kerel woon nie meer saam nie.  Dit is hard op hulle altwee, en op almal rondom hulle, aangesien hulle nou al lank 'n paartjie was.  Nege maande lank saamgebly, en nou is altwee weer alleenlopers.  Ek is net vreeslik bly dat hulle as vriende uitmekaar is, en dat die kwade gevoelens onder beheer is.  Altwee het geweldig geleer en gegroei in die tyd wat hulle saam was, en dit is jammer dat hulle nie saam in die regte rigting gegroei het nie.  Ten minste het hulle dit nou al besef en besluit om dit na al die vorige probeerslae die keer te laat vaar.

Jacques leer die harde manier dat jy nie net kan luister in die klas op universiteit, en dan verwag om goed te doen nie.  Gelukkig vir hom is daar iets soos die internet, dus sit hy en van sy klasmaats nou soms in die aande en praat met mekaar terwyl hulle skerms en dokumente deel sodat almal die logika kan sien en dat hulle menings kan deel.  Dit klink soms asof hulle eerder besig is om een of ander speletjie te speel so rumoerig gaan dit, maar ek is net innig bly dat hy nie soos sy pa alles op sy eie probeer doen nie.

Nou moet hy nog net besef dat sy ouers nie altyd daar gaan wees om alles vir hom te koop en te betaal nie, hy sal dit self moet begin doen.  Iewers sal ons tot 'n vergelyk moet kom, want ek glo nie hy sal dit kan hanteer as ons net skielik heeltemal stop nie.

Rut.

Sug.

Ons rooikoppie het gladnie matriek op die brein nie.  Dit is nie eens onder die top tien onderwerpe waaraan sy wel dink nie.  Op die oomblik is die top onderwerpe waaraan sy wel aandag skenk, in geen spesifieke rangorde nie, soos volg:

Matriekafskeid.  Matriekafskeidrok.  Matriekafskeidskoene. Matriekafskeidjuwele.  Matriekafskeid after-party.  Haar haarkapsel vir die matriekafskeid.  Haar grimering vir die matriekafskeid.  Haar kerel.  Haar kerel se probleme.  Wanneer sy weer haar kerel gaan sien.  Haar selfoon.  Peter se probleme.  Esther se probleme.  Probleme wat sy met Jacques het.  Probleme wat sy met haar ouers het.

Vir weke lank was die feit dat sy nog nie ingeskryf was by TUT vir volgende jaar nie ook op die lys, maar dit is nou gelukkig nie meer 'n probleem nie.  Nou moet hierdie matriekafskeid ook net agter die rug kom, en ek hoop regtig dit is nie te laat nie.

Kinders.  Bewys dat ons geen idee het wat ons doen as ons verlief raak nie.