My jongste dogter het Sondag agtien geword. Dit is asof ek skielik net besef hoe min ek werklik weet wat in my kinders se lewens aangaan, hoeveel hulle verander het van die kinders wat ek nog in my gedagtes sien tot die jongmense wat hulle nou is.
Ek wonder of dit dieselfde is vir ander ouers; dat hulle weet hoe elke kind sal optree in sekere omstandighede, en glad nie in ander nie. Ek kan die invloed sien wat ek in hul lewens het, hoe ek hulle gevorm het, maar ek kan ook sien hoe hulle deur ander gevorm is, en dan natuurlik ook waar hulle verskeie invloede saamgevorm het in een nuwe, unieke eienskap wat meestal onverstaanbaar is.
Emosies en hormone was nog nooit iets wat ek eers probeer verstaan het nie. Dit was nog altyd iets vir my wat met jou gebeur as jy nie op jou hoede is nie, en jy probeer dit dan maar hanteer so goed as wat jy kan. Dit is egter nie die geval met my kinders nie. Vir my lyk dit of hulle dit uitsoek en met alle mag en mening probeer uitleef, terwyl hulle almal wat magteloos toekyk en probeer om raad aan te bied, kwalik neem omdat hulle nie 'verstaan nie'.
Terwyl ek regtig nie 'verstaan nie', weet ek egter dat dit 'n keuse is wat hulle maak om alles so te ervaar, terwyl ek 'n ander keuse gemaak het. Dit is nie 'n beter keuse nie, dit is nie 'n slegter keuse nie, dit is net 'n ander keuse, een wat my beter gepas het. Elkeen van ons maak keuses wat ons eie is, wat ons uniek maak, en party is keuses wat ons later spyt oor is en verander, of probeer verander.
Hoe vertel, hoe oortuig jy 'n kind dat keuses nie permanent is nie? Dat jy oor en oor en oor dieselfde kan kies, tot jy op 'n dag anders besluit, want jy het verander? Hoe vertel jy 'n kind dat jy 'n dag later weer die ou manier kan kies, want jy mis die ou, standvastige manier, al weet jy nou van 'beter'?
Om een of ander rede het my ouers my vertel dat die lewe regverdig is, dat goed uiteindelik oor kwaad sal seevier, dat mens slegs hard moet werk en te glo, en jy sal jou drome waar maak. Nogal 'n skok om uit te vind jou ouers het vir jou gelieg omdat hulle jou wou beskerm.
Ek het die laaste paar jaar probeer om my kinders anders op te voed. Die lewe is nie regverdig nie, maar dit gaan beslis nie help om die hele tyd op die ergste te wag nie. Mens kan versigtig wees sonder om deur vrees beheer te word. Dit is belangriker om iets te leer uit wat met jou gebeur as om dit vir die res van jou lewe te probeer vermy.
Goed en kwaad is naambordjies wat ons aan gebeure hang. Dit is net 'n persepsie, en as jy jou persepsie verander kan jy jouself ook verander. Of is dit andersom, of miskien net een en dieselfde ding? Wat anders is ek as my persepsies? Is 'harde werk' nie net my ouers se persepsie van die 'slim werk' wat my persepsie is nie? Praat ons dalk eintlik van dieselfde ding sonder om dit te besef?
Ek het vrede gemaak met die feit dat my persepsie uniek is, en dat niemand anders dit ooit heeltemal sal verstaan nie. Dit beteken egter ook dat ek nooit iemand anders se persepsies ooit heeltemal sal verstaan nie, want almal is uniek. Dit is so effens moeiliker om te aanvaar, en is die oorsaak van die meeste probleme in ons samelewing. Volgens my persepsie, natuurlik.
Persepsies. Dit is nie enigiets konkreet nie, dit is nie eens iets wat jy presies kan vaspen nie, want dit is, hopenlik, besig om die heel tyd so effens te verander. Een van daardie goed wat jy verander as jy dit presies probeer definieer. Wat my laat wonder. Verander jou persepsies werklik deur jou ervaringe, of verander dit omdat jy jou bestaande persepsies nou bevraagteken? Kan ek nou my persepsies verander deur ervaringe van jare gelede te bestudeer? Hmmm...
No comments:
Post a Comment