Wednesday, 2 January 2013

Weereens 'n begin.

Eens op 'n tyd het ek baie geblog.  Dit vreeslik geniet, want die idee van blogging was nuut, mense het oor die interessantse onderwerpe geskryf en gesels, en ek het met soveel 'nuwe' idees kennis gemaak, dat ek gevoel het dat dit net die regte ding is om my brein weer aan die gang te kry.

En vir 'n hele ruk het dit gewerk...

Daar was verskeie redes waarom ek ophou blog het, met die belangrikste heel waarskynlik dat ek belangstelling verloor het.  Baie mense het opgehou omdat sommige geen respek vir ander mense het nie, of omdat hulle aangeval is deur mense wat nie kan insien dat "Die Waarheid" van oomblik tot oomblik mag verander nie.  Ek het egter my sê gesê, en kon aan niks meer dink om te deel nie.  Mors van tyd om aan te gaan, nie waar nie?

Nou mag daar dalk weer rede wees om te begin blog.  Ek het weer 'n paar idees wat rondskommel in my kop, goed wat 'n ruk lank al werk om deur hierdie kopbeen van my te sypel en net wag vir hulle paar oomblikke in die son, voor dit weer Winter word, met net die belofte van lewe wat my deur die maer jare laat worstel.

Ek het nou begin om in Afrikaans te skryf, maar sommige idees het die taal van die antichris nodig om gedeel te word met ander.  Dit is nie dat Afrikaans nie opgewasse is daarvoor nie, maar eerder dat dit in 'n ander taal as die moedertaal geuiter moet word, sodat dit nog vanaf 'n afstand besigtig moet word voordat dit dalk, per ongeluk, deel word van my wêreldbeskouing.

Ja, ja, ja.  'n Blog oor wat in my kop aangaan, oor hoe ek die wêreld ervaar, oor wat vir my belangrik is.  Soos ek al soveel keer vertel is, die binnekant van my koppie is te klein en te donker om mense se aandag te trek of te hou.  Dit het my egter nie vroëer gestop nie, en dit gaan ook nie die keer nie.  Ek doen die blog eerstens vir myself, tweedens vir myself, derdens vir myself, en dan is dit vreeslik lekker om te sien dat ander dit ook so af en toe lees.  Nog lekkerder as ek sien jy kom terug om weer die volgende stuk te lees, maar as ek niks het om te deel nie, gaan ek meestal niks plaas net om jou tevrede te hou nie.  Dit mag egter so af en toe gebeur, en dit gaan dalk die rede wees waarom sommige mense terugkom.  Om die kommersiële snert te lees.

Vir eers is dit egter genoeg.  Sal weer, as ek iets het om te deel, dit hier kom saai.  Tot dan, mag jy opgewasse wees vir die uitdagings wat vir jou wag...

No comments:

Post a Comment